RSS

Andries van Craig

20 Aug

Gister was Sondag en ‘n fantastiese Sondag daarby. My vrou se tante, ‘n geweldige interressante mens in haar eie reg, het ons genooi vir middag ete. Nou as ‘n tante wat vir jou alles van jou stamboom tot by Van Riebeeck kan uitlê jou nooi vir Sondag middag ete, dan kanselleer jy alle afsprake en jy trek jou beste velskoene aan.

Oppad stop ons by Woolies vir ‘n bossie rose en ‘n bottel wyn en daar trek ons. Met die Fiesta in 1ste rat teen Swavelpoort se berg uit, kry ek hierdie opgewondenheid in my hart. Amper soos die Voortrekkers moes gevoel het oor nuwe grond.

Net toe ek die voordeur van die groot kliphuis ingaan sien ek in die voorhuis ‘n figuur voor ‘n rekenaar onder ‘n dik leer baadjie en ‘n bofbal pet. Omdat daar altyd swerwers van een of ander aard by ons tante se huis inwaai, kon ek nie help om te wonder wie die karakter is nie. ‘Middag’ sê ek in sy rigting, en hier kom hy, effens krom na die sit, maar baie flink. ‘n Sterk hand druk myne en onder die pet steek ‘n neus se punt en ‘n groot glimlag uit. ‘Andries’, stel hy homself voor. Met ‘n kop knik groet hy ook my vrou en keer terug na sy rekenaar. Ek kon nie help om te wonder wat hy mee besig was nie.

Ons stap die kombuis binne. ‘n Reuk soos uit my moeder se plaas kombuis oorval my spoeg kliere. Nou wonder ek oor Andries en ek wonder oor die pot in die oond. DIe kombinasie oorweldig my in ‘n stil swye. Ons tante vertel vir ons allerhande nuus en luister hoe my dogtertjie vir haar ‘n ‘Sus en Daan’ of iets soortgelyks lees.     My oë sien alles, my ore hoor niks, maar in my binneste wonder ek of Andries saam met ons gaan kom eet. Waar kom hy vandaan, hoe lyk die res van sy gesig, wat doen hy op daai rekenaar?

Kort voor lank word die tafel gedek, ek tel die borde…..sewe, agt, nege….. yesss!!!! Hy moet kom eet. Die man was nog skaars in die kombuis toe stop ek ‘n glas Nederburg Grenache in sy hand en vra ‘Drink jy wyn Andries?’ Hy haal sy pet af, en ek sien die oë van ‘n ouer man, die jare lê op sy voorkop. My boere opvoeding skop in en ek besef dis ‘Oom’ Andries. Om nie te lyk asof ek omkant betrap was nie, skiet ek met die volgende vraag, ‘Wat doen oom daar binne, skryf oom?’ ‘Nee’, antwoord hy, ‘Dis sommer ‘n bewysstuk vir ‘n hofsaak’. Hy sit aan tafel en sê niks verder nie. Die leer baadjie wat hy aan het vang weer my oog. Dis baie mooi en dit lyk baie warm. Hy sien ek oog sy baadjie en vertel dat hy dit in Kanada gekoop het toe hy vir ‘n jaar daar gebly het. Net daar toe weet ek, hier kom ‘n interressante middag en ek maak sy glasie vol.

Net soos ek weer wonder oor die pot in die oond bring ons tante die pot en nog een en nog een en nog een. Swaar yster potte met deksels op. ‘My spoeg loop sommer uit’, sê oom Andries. Die gedagte van die woorde sit nie so lekker op my tante se gesig nie, maar ek weet wat hy bedoel. Die deksels kom af, eerste rys, toe ‘n blomkool en kaas gereg, en toe…. skaapboud waarvan die sous in die braai aartappels ingetrek het. My tong raak droog soos ander dag se biltong toe my spoeg kliere alle vog uit die atmosfeer uit trek. En toe, die laaste pot, bees stert met wortels en nog aartappels in ‘n sjerrie sous. Ek vang oom Andries se oog en ek besef, hy sing nou in die selfde engele koor as ek. Ek maak mos maar altyd net boere kos sê my tante nederig met ‘n stoutigheid in die hoek van haar mond.

‘So waar bly oom nou’, vra ek. Die Nederburg begin nou die spoed van sy gesels aanhelp en ek skink vir hom nog. ‘Ek bly in Craig, soos die van, Craig. Craig, Colorado in die Noord Weste van Amerika. Dis die dat ek die warm baadjie het. Dit raak in die winter -40′, sê hy en le weg aan die aartappels.

Oom Andries van Craig vertel vir my die heel middag die mees interressante feite van sy dorp. In my verbeelding roep hy weer die prentjies wat ek as skoolseun gevorm het oor Amerika na vore. Hy vertel van ‘n boere gemeenskap waar die 16 jarige seuns met groot Ford bakkies skool toe ry, ‘Tot vyf gewere agter die sitplek’, sê hy. Volgens oom Andries het almal in Craig vuurwapens. Tom, die vriend by wie hy bly, het blykbaar nie minder nie as twee-en-dertig gewere. In my agterkop is daar ‘n frons wat ek te bang is om op my gesig te wys. ‘Craig het geen misdaad nie, want almal het vuurwapens’ vertel hy, en net daar besef ek ek moet nou hierdie gesels eers in ‘n ander rigting stuur. Miskien omdat ons die hele week hoor van doodslag in Marikana, miskien omdat die storie vir my so bietjie dikker raak as die tante se kaas sous.

‘En die mense?’, vra ek. ‘Og, die meisies…’ en hy sluk aan sy Nederburg. ‘Jy weet, daar werk die jong meisies in die veld met rooi check hempies, stetsons, boots en blou denims. Net soos jy op tv sien. Hulle werk met grawe met sulke lang stele en groet as jy by die draad verby stap. Hulle is net soos ons mense’. My skoolseun prentjies raak nou glads te lewendig.

Allerhande Cowboy flieks speel in my gedagtes af en ek mis ewe skielik ‘n perd, ‘n 303 en ‘n foksterriër. ‘Waarmee boer hulle oom?’ ‘Mielies, baie mielies. Daar eet ons die hele jaar groen mielies, elke dag.’ Hy vertel weer vir my van vriendinne in die dorp en herinner my dat die mense van Craig net soos ons boerevolk is. ‘Nou hoe het oom daar uigekom?’ vra ek nuuskierig. ‘Craig is the Hunting capital of America’ sê hy met ‘n glimlag wat ek al iewers gesien het. Hy vertel dat hy mal is oor jag en gewere. Hy vertel van verskillende bokke en wolwe en ‘n jas wat hy wil maak van beer vel.

Die storie maak my lus vir pyp rook en ewe skielik onthou ek waar ek daai glimlag vandaan ken. Dis die glimlag van satisfaksie. Dieselfde satisfaksie glimlag wat die Peter Stuyvesant cowboy agter op die Huisgenoot altyd gehad het. Die selfde satisfaksie wat in die hoek van my tante se mond weg gekruip het toe sy haar boerekos voorsit.Die boerekos het my laat huis toe verlang en oom Andries het nog baie dinge gesels, van stap in die Rocky Mountains tot koffie in Kenia, maar al wat by my kom stil staan het was ‘n gevoel.

Oom Andries van Craig (nie sy van nie), het weer ou drome en prentjies kom oproep en hulle ‘n hupstoot gegee die toekoms in. Of sy feite almal reg was, die weet ek nie, maar die Sondag middag stories daar in Swavelpoort, was ’n werklikheid vir my. Hoe weet ek dit? Die glimlag in die hoek van my mond.

Advertisements
 
Leave a comment

Posted by on August 20, 2012 in Swerwers op my pad

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: